Fokus op Vaalwater

Vaalwater — juweel van die Bosveld
Vaalwater is vroeg in die eeu aangelê op die plaas Vaalwater, wat destyds aan Ebenaeser John Kirkman behoort het.
In 1956 is dit tot dorpsgebied geproklameer. Die eerste poskantoor was op die stasie en die nuwe poskantoor — destyds baie modern vir sy tyd — is in 1966 in gebruik geneem.
Die stasie was een van die grootstes in die land en daar het tot ses treine per dag ingestoom. Die spoor het op Vaalwater geëindig en die hele Bosveld is van daar af met spoorwegbusse bedien — van goedere, pos en passasiers. Die spoorlyn is in 1923 geopen.
Die huis regoor die huidige hotel was die losieshuis, want van ’n hotel was daar geen sprake nie. Die huis het aan . Koos Bekker behoort.
Hy was ook die eienaar van die eerste slaghuis. Nadat hy die eerste hotel gebou het, is die losieshuis as tronk gebruik. Daar was vier selle (daardie dae was skelms nog skaars — vier selle was meer as voldoende).
Die meule is presies waar dit vandag nog staan. Die hoofpad moes effe skuif omdat die meule in die straat gestaan het en wie wil nou ’n meule vir ’n straat verskuif? Die dorp se krag het van die ou kragstasie naby die spoorwegstasie gekom, maar die hele dorp se krag is saans om 22:00 afgeskakel.
Die eerste skooltjie in die omgewing was op die plaas Hartebeespoort wat aan die Farant-familie behoort het. Daarna het die skool na Zanddrift verskuif.
In 1953 is die huidige Laerskool Vaalwater langs die hotel geopen. Dit was ’n driemanskooltjie met Fanie Hoffman as eerste permanente skoolhoof. Die ander twee onderwysers was sy vrou, Katy, en Chrissie van Heerden.
Nic Röntgen het die eerste skoolbus bestuur. In 1960 is die nuwe skool soos dit vandag is, geopen.
Ná Hoffman se aftrede het Faan Swanepoel die hoof geword en ná hom Pieter van der Westhuizen.
(Bron: Die Pos-argiewe)